Op Maandag, 16 Oktober 2023, sal ‘n merkwaardige dame genaamd Sophié Dorothee Mansvelt Gass haar 100ste verjaardag by die Ons Tuis Riviera-tehuis vier.
Sophié, wat op 16 Oktober 1923 in Sumatra, Indonesië, gebore is, het kort ná haar geboorte saam met haar gesin na Suid-Afrika verhuis. Hier het sy haar vormingsjare op ‘n plaas in die Ohrigstad-distrik deurgebring, waar sy ‘n liefde vir die natuur ontwikkel het.
Sophié en haar man het in die Kameeldrif-omgewing ‘n pluimvee-boerdery gehad en dit is ook hier waar hulle hul vier dogters grootgemaak het. Sophié is ook die trotse ouma en grootouma van nege kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Sophié se hande staan vir niks verkeerd nie en in 2019 het sy ‘n toekenning ontvang vir haar uitstaande bydrae tot die “Waardevol vir Jesus”-projek. In hierdie projek het sy handpoppe gebrei om vertroosting te bring aan kinders wat die ondenkbare verduur het – slagoffers van seksuele misbruik en uitbuiting.
Bedags hou sy haarself besig deur te brei, ‘n stokperdjie wat haar groot vreugde verskaf. Selfs al het haar gehoor verswak, het sy steeds ‘n liefde vir goeie musiek.
“Ons is ongelooflik bevoorreg en geseënd om my skoonma vir so lank ons lewens te kon hê,” sê Jan Volschenk, Sophié se skoonseun.