Vyftien kilometer se kersliggies is beslis iets om te aanskou! Daarom sien inwoners van Mokopane (Potgietersrus) en omliggende dorpe weer met groot opwinding uit na Ons Tuis: Piet Potgieter se Kersliggiefees.
Volgens die bestuurder van die aftree-oord, Mariana van Tonder, is hierdie besonderse fondsinsamelingsprojek — ten bate van bejaardesorg — jaarliks ‘n heerlike uitstappie vir die hele gesin.
“Dit skop op 1 Desember 2021 op ‘n hoogtepunt met ‘n kersmark en vertonings af wat oor drie dae sal strek. Maar besoekers kan tot en met 25 Desember, teen ‘n bekostigbare fooi van R10, die asemrowende kersliggies saans kom besigtig. Alles vind rondom die tehuis se perseel in Rabestraat 59 plaas,” sê sy.
Die program, wat vanaf 1 tot 10 Desember hardloop, sluit onder meer ‘n hondevertoning en lyndanse in. ‘n Verskeidenheid kosstalletjies en twee eksklusiewe musiekkonserte, teen R70 elk, word ook beplan.
“Henrico Coetzer van die Maak my famous-faam tree op 3 Desember op. En Christiaan Baartman se rasperstem sal die gehoor se harte op 10 Desember laat vinniger klop,” sê sy opgewonde.
Die kern van die Kersliggiefees sal egter altyd wees om God se lig uit te dra en ‘n verskil in die lewe van behoeftige bejaardes te maak.
“Met Jesus Christus se verskyning aan die wêreld, het die Lig na die aarde toe gekom. Dit het gekom om al die donkerte in ons lewens uit te dryf. Daarom is lig die simbool van hierdie fees. Mag ons almal weer opnuut die goedheid en guns van Christus hierdie feesseisoen raaksien. Mag ons die roete wat Hy vir ons aanwys met begrip aandurf. Mag God aan ons die krag en dapperheid gee om Sy ligdraers hier op aarde te wees,” sê sy.
Laai die volledige Kersliggiefeesprogram hier af of kontak Ons Tuis: Piet Potgieter op weeksdae gedurende kantoorure by 0154916314/5.
Foto: Adonyi Gábor | Pexels