Die waarde van ‘n persoon se lewe mag nooit vergeet word nie, selfs al vervaag hul geheue. Dit was die kernboodskap van die Ons Tuis Demensie-kuieruur wat op Saterdag, 14 September 2024, plaasgevind het. Die geleentheid, aangebied by die Ons Tuis Dienssentrum in Riviera, Pretoria, het ongeveer 90 mense gelok.
Volgens Anneliese Bothma, maatskaplike werker van Ons Tuis, was die oggend gevul met insiggewende praatjies deur ervare sprekers. “Welma Geldenhuys van Alzheimers Suid-Afrika het die gehoor toegespreek oor die gevreesde woord ‘Demensie’,” vertel Bothma.
Amonique Pretorius en Kara Pieters van Elden Care het oor die hantering van finansies gesels, en die bywoners het veral Marieke Smit, arbeidsterapeut van Ons Tuis, se praatjie oor aktiwiteite saam met mense wat aan demensie ly, waardeer.
Die dag is gereël deur Abby Mitton, ’n maatskaplike werk-student, in samewerking met Bothma as deel van haar gemeenskapswerkprojek. Na afloop van die program is boeke en ander relevante materiaal te koop aangebied om bywoners verder toe te rus.
“Ons doel is om die gesprek oor demensie in die gemeenskap aan die gang te kry en om die mens agter die siekte terug te plaas in die kollig,” voeg Bothma by.
Bothma beklemtoon hoe belangrik dit is om gesinne en versorgers te ondersteun wanneer hul geliefdes met demensie sukkel. “Die siekte raak nie net die individu nie, maar ook almal rondom hulle. Daarom is dit noodsaaklik om bewusmaking te skep en hulpbronne beskikbaar te stel,” sê sy. “Deur sulke geleenthede toerus ons versorgers met kennis en tegnieke om die lewe van die demensielyer en hul familie makliker te maak.”
Die kuieruur skep ook ‘n veilige ruimte waar families hul ervarings kan deel en ondersteuning by mekaar kan vind. Beide die sprekers en bywoners stem saam dat die bespreking van hierdie siekte van kardinale belang is vir die gemeenskap. “Ons wil verseker dat mense weet hulle is nie alleen nie, en dat daar hulp en begrip beskikbaar is.”