Rocco de Villiers, wel bekende pianis, het ‘n besondere projek aangepak om die senior inwoners van verskeie tehuise regoor die land te vermaak. Onlangs het die inwoners van drie van die Ons Tuis-tehuise die voorreg gehad om Rocco se humor en klavierspel te geniet tydens sy besoeke.
Rocco het sedert die begin van hierdie projek reeds meer as 200 tehuise se inwoners met sy humor en klavierspel vermaak.. Die projek het sy ontstaan te danke aan die voormalige uitvoerende hoof van Shoprite Checkers, Whitey Basson. Nadat Basson afgetree het, het Rocco die teuels oorgeneem en voortgegaan met die projek. Intussen het Gerhard Potgieter van GP Grain en GP Consult vir Rocco ’n VW AMAROK geskenk waarmee hy nou na die tehuise ry.
“Om ’n verskil in hulle lewens op ’n gevorderde ouderdom te kan maak, is vir my die beste deel van wat ek doen,” vertel Rocco. “Die wêreld hou van jonk, mooi en nuut en het die gewoonte om seniors soos ou motors op ’n skrootwerf te gooi. Ek wil nie deel wees van daardie wêreld nie. Na die Covid-19-pandemie is dit nog meer belangrik vir my om die besoeke te doen.”
Hy sorg vir ‘n reis deur die tyd met treffers uit die inwoners se eie era, insluitend boeremusiek, filmmusiek en melodieë uit die Tweede Wêreldoorlog.
Met nog vele optredes in die vooruitsig, sê Rocco dat hy nie sal ophou om bejaardes te vermaak voordat daar ‘n jong Rocco is wat die tehuis sal besoek – waar hy oor 30 jaar sal wees nie.
Rocco het ook tydens sy besoek aan Ons Tuis Emily Hobhouse ‘n beeldjie ter erkenning van onbaatsugtige diens aan Ons Tuis ontvang.
Maar vir Rocco lê die ware beloning nie in toekennings nie. “Toekennings is nie hoekom ek hierdie liefdadigheid begin het, of nogsteeds doen nie,” het hy gesê. “Maar om raakgesien te word wanneer jy net bietjie vreugde in iemand se lewe bring, is baie spesiaal.”
Die beeldjie spog nou in Rocco se kantoor, “sodat hy elke dag daarna kan kyk”.