Twee weke was meer as genoeg tyd vir Amanda Homan (77) en Ronald Matthews (82) van Ons Tuis: Andries Marie Oosthuizen (AMOT) om nie net verlief te raak nie, maar om ook die knoop deur te hak.
“Hoeveel tyd het jy nog oor voor die deur toemaak,” vra Ronald. “Maak die beste daarvan as jy iemand kry wat jy liefhet.”
Matrone Teresa Broodryk, bestuurder by Ons Tuis: AMOT, vertel die smoorverliefdes het mekaar vroeg in 2024 in die tehuis se gange ontmoet.
Amanda was vir 56 jaar getroud en haar eggenoot is drie jaar gelede oorlede. Sy is afkomstig van Witpoortjie in Gauteng en is sedert 2020 ‘n inwoner van AMOT. Sy het twee kinders, ‘n seun en dogter.
Ronald kom oorspronklik van Klerksdorp, Noord-Wes provinsie, waar hy sy eie vervoer besigheid gehad het. Hy het ook later geboer met graan, en het ‘n stoet Brahmaan en Simmentallers besit. Sy eggenoot is in 2023 oorlede en om die eensaamheid hok te slaan, het hy kort daarna na Ons Tuis: AMOT verhuis. Hy het twee seuns en spog met ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Die paartjie se ontmoeting was liefde met die eerste oogopslag en het hul nie
weer opgehou met gesels en kuier nie.
Die huweliksbevestiging het op 2 Februarie 2024 by die AGS te Parys, Vrystaat provinsie, plaasgevind. Dit was ‘n informele seremonie met net vyf familielede as gaste. Die pasgetroudes woon nou saam in ‘n woonstel by Ons Tuis: AMOT tehuis.
“Ek is dankbaar dat die Here my nog ‘n kans gee om die beste vrou te
wees vir my nuwe man,” sê Amanda met ingenome trots.