ONS TUIS REIK UIT NA BEHOEFTIGE BEJAARDES WAT NIE IN TEHUISE IS NIE.

Ondersteun die Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville om aan meer behoeftige bejaardes in Pretoria een ete per dag te gee.
Duisende bejaardes in Suid-Afrika weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Hulle karige pensioen dek net-net hulle eenvoudige verblyf. Daar is nie altyd genoeg geld vir ‘n bietjie kos ook nie. Gesonde, gebalanseerde maaltye is meestal net ‘n versugting.
Genoeg gesonde kos is van uiterste belang om bejaardes se verswakte immuunstelsels en beendigtheid te beskerm. Sonder genoeg gesonde kos word hulle meer gereeld siek en bly langer siek. Hulle breek makliker bene, polse en heupe. Hulle sukkel om te konsentreer, is futloos en vind dit moeilik om selfs die eenvoudigste daaglikse take te verrig. Te min gesonde kos lei tot depressie, hartsiektes en diabetes.
Die Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville gee daagliks vir meer as 60 bejaardes van die omgewing ‘n gesonde, gekookte bord kos. Soms is dit hulle enigste kos vir die dag. Die bejaardes word daagliks met ‘n bussie opgelaai en vervoer na die dienssentrum.
Maar nog meer bejaardes kry nie selfs net een bord kos ‘n dag nie. Hulle kry niks.
Ondersteun die Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville om meer bejaardes een ete per dag te gee. Die Ons Tuis-groep is ‘n organisasie sonder winsbejag.
