Maatskaplike werkers moet dikwels onder uiters uitdagende omstandighede werk wat emosioneel en fisiek sy tol kan eis.
Baie beskou egter dié werk as ‘n roeping – om ander mense te help. Vir Mariana van Tonder, bestuurder en maatskaplike werker van Ons Tuis te Mokopane, was dit haar gelukkige kinderjare wat haar laat besluit het sy wil iets vir ander mense doen wat nie ‘n soortgelyke ervaring gehad het nie.
“Ek dink nie mense besef werklik die verskil wat maatskaplike werkers maak nie. Daar is ‘n wanopvatting dat hulle net kinders uit ouerlike sorg verwyder maar dit is hoegenaamd nie so nie. Ons probeer om verhoudings te herstel en te verbeter eerder as om toe te sien dat mense van mekaar verwyder word.”
Die Ons Tuis-tehuise vier vandeesmaand maatskaplike werk-waarderingsmaand om vir maatskaplike werkers te wys hulle word raakgesien en dat daar waardering is vir dit wat hulle doen en in hul gemeenskappe beteken.
Maatskaplike werkers bied ondersteuning aan individue, gesinne en gemeenskappe wat onder meer insluit om na die welstand van weerlose groepe soos kinders en bejaardes om te sien. In Suid-Afrika, waar daar ‘n hoë getal van maatskaplike probleme voorkom, word maatskaplike werkers gereeld aan moeilike werksomstandighede blootgestel.
“Dit is belangrik om jou eie emmertjie vol te hou deur jou persoonlike omstandighede so gelukkig en positief moontlik te hou,” sê Mariana. “Jy moet tegnieke aanleer om te verseker dat jou probleme nie saam met jou huis toe kom nie.”
Vir diegene wat ‘n loopbaan as ‘n maatskaplike werker oorweeg, het Mariana die volgende raad: “Moenie dink dat as jy swaargekry het gaan jy nou almal kan red nie. Jy moet self baie stabiel en volwasse wees. Om mense te bemagtig is deel van die werk en jy moet ‘n oplossing kry wat tot die kern van die probleem spreek.”
Maatskaplike werkers moet dikwels verskillende rolle inneem, soos die van opvoeder, verpleegster en soms selfs skoonmaker.
Natasha van Tonder, maatskaplike werker van Ons Tuis se tehuise in Pretoria en Parys, sê dit is die behoefte om ‘n verskil te maak wat haar na die beroep aangetrek het.
Natasha werk vanaf Junie 2018 by Ons Tuis en vir haar is dit die bejaardes se lewenslus wat haar daagliks inspireer. “Baie van hierdie mense is 80 jaar en ouer en mens kan sien dat hulle steeds ‘n lus vir die lewe het en dat hulle steeds ‘n verskil wil probeer maak. Hulle het nog dryf en gee nie bloot op nie.”
In die uitvoering van hul pligte loop maatskaplike werkers dikwels die risiko om depressief te raak, uit te brand of selfs beseer te word deur mense wat gewelddadig optree. Dit is dus noodsaaklik dat maatskaplike werkers ook na hul eie welstand moet omsien – iets wat hulle so onbaatsugtig vir ander doen.
Een van die moeilike aspekte van Natasha se werk is dat sy hoor van bejaardes wat mishandel en misbruik word of dit self beleef. “Hierdie mense het hulle hele lewe gewerk en tot die samelewing bygedra en nou word hulle wanneer hulle op hul weerbaarste is mishandel en misbruik. Hulle het so groot deel van hulle lewe gegee om ander te help en dan kom daar mense en maak hulle seer.”
Dit is egter ook die bejaardes wat Natasha se dag opvrolik. “Dit is so lekker om hulle stories te hoor oor hul grootwordjare en wanneer hulle ‘n stukkie van hulself deel.”
Maatskaplike werkers is dikwels ‘n stem vir diegene wat nie ‘n stem het nie en dit verdien respek, waardering en erkenning.