Hoekom is hierdie twee organisasies nou saamgestel?
Die ledevergadering van Ons Tuis het op 22 September 2016 en die NHSV Nasionale Kongres as ledevergadering van die Monumenttehuise op 4 Julie 2017 toestemming verleen tot die amalgamasie van die twee organisasies. Kragtens hierdie besluite het die gesamentlike vergadering van Ons Tuis en die Monumenttehuise van die NHSV se direksie op 27 Julie 2017 die samestelling goedgekeur.
Die saamgestelde maatskappy sal bekendstaan as Ons Tuis handeldrywend as OTMT. Die eiendomme van die Monumenttehuise van die NHSV is ingevolge hierdie besluit oorgedra aan die Ons Tuis-maatskappy. Die direksie bestaan uit 11 direkteure: 8 lede uit OTMT (4 aangewys deur Ons Tuis en 4 deur die NHSV); 1 elk afgevaardigde van die ADV en die AKV, met die Bestuurder: OTMT wat ex offi cio-lid is. Die visie van OTMT bly soos dit nog altyd was, naamlik om met die middele en kundigheid tot ons beskikking te streef na uitnemendheid op die gebied van die versorging van ouer persone.
OTMT is verbind daartoe om voorsiening te maak vir die besondere behoeftes wat ontstaan as gevolg van veroudering en verswakking, ten einde aan sodanige persone sekuriteit, hoop en lewenskwaliteit te bied en hulle ’n menswaardige bestaan te laat voer. Dit is waarom OTMT die waardes van menswaardigheid, gelykheid, integriteit, verdraagsaamheid, respek, gebondenheid en deursigtigheid onderskryf.
OTMT wil haar visie bereik deur hierdie waardes uit te leef en na gesonde bestuur te streef, deur plaaslike betrokkenheid sodat die instelling nasionaal relevant kan wees en as sodanig erken kan word.
In al die handelinge van die direksie en die goed opgeleide personeel wil OTMT ouer persone so lank moontlik selfversorgend in die gemeenskap laat funksioneer en ondersteunende dienste aan hulle lewer. In moeilike finansiële omstandighede streef OTMT daarna om veilige en bekostigbare behuising te bied in die vorm van woonstelle of kamers waar ouer persone so lank moontlik selfstandig kan funksioneer, en ondersteunende dienste aan hulle gelewer kan word. OTMT wil egter ook ouer persone wat fisies of geestelik verswak het, gedeeltelik of in geheel versorg deur die gebruikmaking van goed toegeruste en opgeleide personeel in die onderskeie versorgingseenhede. In hierdie proses word gepoog om kinders en familielede van ouer persone so nou moontlik betrokke te maak by hul versorging en die voorsiening in hul unieke behoeftes.
Die Ons Tuis-direksie is verantwoordelik vir die finansiering van die infrastruktuur, personeel en bedryf van die OTMT-groep. ’n Finansiële komitee bestaande uit 5 direkteure, die rekenmeester en bestuurder van OTMT hou vier keer per jaar vergadering en monitor die finansiële aspekte vir goeie finansiële bestuur.
Gedurende 2017/18 is baie werk gedoen in samewerking met die Maatskapy PCM Consulting om die fasiliteite van OTMT op te gradeer en netjies te maak. Ons is dank verskuldig aan die Kerk, die NHSV en ander instansies wat oor jare met groot ywer die saak van die versorging van ouer persone ’n prioriteit gemaak het.
Mag God steeds in die toekoms voorsien dat die Ons Tuismaatskappy met ywer hierdie taak kan verrig met die steun van die NHKA.
Ds Frikkie van Wyk
Voorsitter: OTMT-direksie