Ons Tuis het op 12 Oktober 2023 ‘n uitstalkas, wat vanuit 1929 dateer, aan die SP Engelbrecht Museum, die museum van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, oorhandig.
Ons Tuis, ‘n maatskappy wat die optimalisering van die beskerming van ouer persone in uitnemende residensiële fasiliteite en die bevordering van aktiewe veroudering as doelwit het, glo dat die toekoms gebou is op die fondamente van ons geskiedkundige verlede.
Daarom is die bewaring van ons Kerkgeskiedenis en erfenis vir Ons Tuis van kardinale belang. Ons Tuis se spore kan teruggevind word so ver as 1929, toe mev. Machteld Postmus, eggenote van Dr. Johannes Postmus, destydse Goewerneer van die Reserwebank, besluit het om na die Boereoorlog bejaardes te huisves. Met haar eie fondse en finansiële hulp van vriende en belangstellendes huur sy ‘n huis in Schubartstraat en op 1 April 1929 open die deure van Ons Tuis. Ons Tuis het dus ‘n rype historiese geskiedenis in Suid Afrika en trap tans diep spore in die bewaring van die geskiedenis van Suid Afrika, vir die nageslag.
Om hierdie rede het die Direksie van Ons Tuis (MSW) sonder skroom besluit om die geskiedkundige uitstalkas aan die museum te skenk nadat die museum ook nou ‘n nuwe tuiste gekry het.
Ds. Frikkie van Wyk, voorsitter van die Ons Tuis-direksie, sê Ons Tuis het hierdie uitstalkas op 12 Oktober met groot graagte oorhandig – as bevestiging dat die geskiedenis en erfenis van die Kerk en die bejaardesorg-tuistes, vir Ons Tuis en sy inwoners van kardinale belang is.
“Die bedoeling is nie net om die uitstalkas vir die museum te skenk nie, maar ook om die boodskap uit te dra dat ons bejaardes se rol in die verlede waardevolle lesse leer vir nageslagte en daarom moet daar na ons bejaardes omgesien word,” sê hy. “Dit is vir Ons Tuis ‘n besondere voorreg en daarmee oorhandig ons graag hierdie uitstalkas formeel en seremonieel.”